Onwettige perlemoen handel floreer

Die polisie in die Wes-Kaap het hulle hande vol om die perlemoen stropery hok te slaan, wat normaalweg gedurende November en Desember toeneem in die provinsie.

Sowat R720,000 se onwettig geoeste perlemoen is die afgelope paar dae in twee afsonderlike voorvalle gevind.

Een stroper is vasgevat met sowat R200,000 se perlemoen in sy besit, en in ’n ander voorval is twee mans met perlemoen ter waarde van R500,000 in hulle besit, uitgevang.

Die stropers het blykbaar oor jare vir hulle ’n afsetgebied ontgin, en die vermoede bestaan dat daar restaurante en ander eetplekke is wat die perlemoen koop teen aansienlike laer pryse as wat markverwant is.

Dit word dus vir al die betrokkenes ’n winsgewende bedryf.

In die een voorval het die twee stropers met ’n Audi A4 gery op die N2 naby die strand toe hulle deur die polisie voorgekeer is.

Die diewe het egter nie gehoor gegee nie en weggery, maar is agterna gesit deur die polisie, en in die jaagtog het die bestuurder van die Audi beheer oor die voertuig verloor toe hy probeer het om die polisievoertuig van die pad af te druk.

Die Audi het eers teen ’n ander motor gestamp, en toe die pad verlaat. Die twee insittendes is op die plek in hegtenis geneem.