Omstrede Vrede-melkplaas ly verliese

Die Vrede-suiwelplaas wat sedert sy eerste dae in omstredenheid gedompel is, ly glo ernstige verliese te midde van ’n nuwe bestuur wat in diens gestel is.

Die ANC-regering het die Vrede-suiwelprojek begin met die doel om arm mense te help, maar nou blyk dit dat die projek self sukkel om kop bo water te hou.

Na wat berig word, het die Vrystaatse regering reeds sowat R570 miljoen in die projek belê saam met nuwe vennote.

Die provinsie se Departement van Landbou het in vennootskap met Estina, ’n maatskappy van Indië, die projek aan die gang gesit om glo arm mense te bemagtig.

Die plaas buite Vrede is glo ook in samewerking met die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie (VSOK) gevestig, maar niemand weet blykbaar wie die winste gaan ontvang nie, alhoewel daar blykbaar tot hede nie sprake van winsgewendheid is nie.

Die nuwe span wat die plaas bestuur en bewerk, tesame met die bedryfsuitgawes, beloop meer as R1,5 miljoen per maand.

Die projek is op ’n stadium deur ander oorgeneem en die Uitvoerende Hoof van VSOK, Ikhraam Osman, sê hulle probeer nou vasstel wat die suiwelplaas se posisie is na die oorname.

Tans word die plaas bestuur onder toesig van die VSOK, maar die plaas lewer tans ’n inkomste van R700,000 tot R900,000 per maand, wat nie genoeg is om al die uitgawes te delg nie.

Die inkomste word verkry uit die melkproduksie wat van die 800 koeie verkry word, se winsgewendheid word belemmer deur die groot bedrag wat maandeliks spandeer word om veevoer aan te skaf. Tans lewer die koeie sowat 7,500 liter melk per dag, wat nie genoeg is om die uitgawes te delg nie.

Osman sê die bedryf het ses maande tyd om hulleself reg te ruk.