Okosa moet Poskantoor uitskop

‘n Groep kleiner uitgewerye gaan die Onafhanklike Kommunikasie Owerheid van Suid-Afrika (Okosa) nader om te eis dat die instansie die Poskantoor se lisensie kanselleer.

Dit volg na die drie maandelange staking van die Poskantoor waartydens die tydskrifte en nuusbriewe van hierdie uitgewers nie afgelewer kon word nie.

Aanvanklik het hulle van koeriers gebruik gemaak om hulle gespesialiseerde publikasies te versprei. Hulle moes aansienlike koste vir hierdie diens aangaan en nogtans het baie intekenare hulle inskrywings gestaak en adverteerders het vertroue verloor.

Volgens Rory Macnamara van Interact Media Defined is Icasa die eerste stap in die proses om uiteindelik regsaksie te oorweeg.

Hy sê sowat 400 gespesialiseerde uitgewerye gebruik die Poskantoor om elke maand 200 000 publikasies te versend. Dit het bykans R25 miljoen vir die Poskantoor in die sak gebring wat die organisasie nou nie ontvang nie.

Die hele direksie van die Poskantoor het intussen bedank sodat ‘n span kan ingryp en glo binne drie maande sake moet regruk. Die hooftake van hierdie span sal wees om die finansiële verliese aan te spreek en die staking te beëindig.