Nuwe winde waai in Katalonië

’n Nuwe fase het aangebreek in Katalonië se politieke – en regstryd om onafhanklikheid, weg van Spanje.

Die Spaanse sentrale regering sal nie onbepaald die pas afgelope burgerlike deelname proses in Katalonië kan ignoreer nie.  Meer as 80% van die sowat 2,2 miljoen Katalane wat op 9 November die stembusse besoek het, het ten gunste van onafhanklikheid gestem.

Die sukses van hierdie simboliese stemmery dra trouens ‘n baie sterk boodskap uit, naamlik dat politieke onderhandelinge tussen die Katalaanse president, Artur Mas, en die Spaanse eerste minister, Mariano Rajoy, dringend noodsaaklik is.

Die ideale agenda vir sodanige gesprekvoering tussen die twee leiers sou sake soos belastingtoegewings en wysigings aan die grondwet insluit. Die hou van ‘n amptelike referendum oor onafhanklikheid word ook nou as bykans onafwendbaar beskou.

Internasionale organisasies sal met hierdie uitslae genader kan word in ‘n poging om steun vir die Katalane se onafhanklikheidstrewe te kry.

Die voorvereiste vir enige sinvolle plaaslike onderhandelinge is egter dat Rajoy sy openlike vyandige gesindheid teen die Katalaanse aspirasies sal moet temper. Rajoy staar egter aanstaande jaar plaaslike-, streeks- en algemene verkiesings in die gesig en moet sorg dat hy sy politieke gewildheid probeer handhaaf.

Waarnemers is dit eens dat daar ‘n ernstige politieke vergissing sal wees indien Rajoy en sy sentrale regering sou voortgaan om die Katalane te hanteer soos hulle dit tot dusver gerade geag het. Die mening dat die burgerlike deelname-proses onwettig, en bloot propaganda is, klink na ‘n Spaanse vereenvoudiging van sake.

Die Katalane moes op hulle ‘stembriefies’ aantoon of hulle ten gunste van Katalonië as ‘n staat is, en indien wel, of dit ‘n onafhanklike staat moet wees. Die oorwig het ten gunste van altwee vrae gestem, en die finale uitslae sal blykbaar eers aan die einde van die maand bekend wees.