Nkandlawurms teel aan

Vermoedelik het daar ‘n groot pot suursous deurgeloop nadat Jean Rindel, projekbestuurder van die Nkandla-projek nou sy toestemming teruggetrek het wat die media by sy tugverhoor sou toegelaat het. 

Aanvanklik het hy van groot onthullings oor die “hoë bome” in die skandaal gespog, maar nou skielik sê hy op advies van sy regsadviseurs, hy trek die uitnodiging terug. 

Saam met 11 van sy kollegas is Rindel, verbonde aan die departement van Openbare Werke, aangekla van wangedrag oor die R246 miljoen-opgradering by Nkandla. 

Die kort en die klaar van die aangeleentheid is egter dat hierdie omswaai kan veroorsaak dat die media uit alle Nkandla-verhore gehou kan word. 

Een van die 11 amptenare se regsverteenwoordiger, Elco Geldenhuys sê die besluit om nie die media toe te laat nie, was om taktiese redes asook die vrees om nie verdere stres te veroorsaak nie.

Waarnemers het  tereg gevra wie die spanning verduur, is dit pres. Zuma, die amptenare of die belastingbetaler?

Intussen het dit onder die aandag van Die Vryburger gekom dat daar reeds tekens van verval is by Nkandla. Die heinings kantel glo, en plek-plek is daar reeds tekens dat van die heining afgebreek en weggedra is deur ander mense.