Nie so maklik nie, sê Basson

As daar mense is wat gedink het dat dr. Wouter Basson so gou gaan bes gee as daar hy van die mediese rol geskrap word, moet hulle maar weer dink, want hy is nie van plan om handdoek in te gooi nie.

Dr. Basson sê hy beplan om nog vir ’n lang tyd teen die onreg te veg.

Wouter Basson, ’n voormalige hoof van die weermag se chemiese en biologiese wapenprogram, wat bekend was as Projek Coast, het onlangs weer sy keel skoongemaak oor die etiese saak teen hom.

Hy reken die saak om hom van die mediese rol te skrap, kan dalk etlike jare duur, want hy is geensins van plan om te sit en kyk hoe daar teen hom opgetree word nie.

Die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) begin op 26 November om redes aan te voer oor Basson se optrede van dekades gelede.

Hy wys daarop dat hy sedert 1993 as kardioloog praktiseer, en baie mense se lewens gered het in die tyd, en niemand het beswaar gemaak teen sy werk wat hy toe gedoen het nie.

Hy wys ook daarop dat sy werk niks met enige oorlogvoering te doen het nie, en hy het in die afgelope 21 jaar geen probleem veroorsaak nie.

“Ek sal my ge­tuies hulle kant stel, sodat die raad daarna kan besluit of dit eties sal wees om my te skors,” het dr. Basson gesê.

Hy sê hy sal ook nie berus daarby as hy geskors word nie, en sal appèl aanteken om die saak na die Hooggeregshof te neem, en daarna kan dit na die Appèlhof gaan, maar hy dink dit sal darem nie nodig wees om na die konstitusionele hof te gaan nie.