Nelspruit hospitaal in totale chaos

Die werkers van die Rob Ferreira-hospitaal in Nelspruit is met hulle staking die rede waarom ’n ontbinde lyk in die hospitaal le terwyl niemand ’n vinger verroer om die higiëne van die plek in stand te hou nie.

Die lyk is in ’n klein vertrek op die derde vloer van die hospitaal toegemaak, bedek met ’n groen laken, en daar gelos terwyl die personeel staak.

Die ondraaglike reuk het met die oopmaak van die deur, vinnig na die hospitaal se ander vertrekke versprei en die nie-stakende personeel verplig om pad te gee tot die lyk verwyder is.

Kort daarna het stakende werkers die hospitaal se vullis in die gange en vertrekke rond gestrooi terwyl ander die toegang vir ambulanse versper het met brandende gemors.

Dumisani Malamule, ’n woordvoerder van Departement Gesondheid, het later erken dat talle lyke onversorg in die hospitaal gebly het terwyl werkers voortgaan om die plek in chaos te omskep.

Die chaos is veroorsaak deur werkers wat ontevrede is omdat hulle nog nie uniforms ontvang het nie.

Die departement se woordvoerder sê die werkers het voorlopig teruggekeer en werk teen ’n spoed om alles weer in orde te kry, maar ’n diensverskaffer sal later aangestel word om uniforms te verskaf.