Namibië hou binnekort verkiesing

Namibië hou op 28 November ‘n nasionale en presidensiële verkiesing en weinig verrassings word op die politieke front voorsien aangesien die verwagting is dat Swapo nogmaals as die wenner uit die stryd sal tree.

Die grootste opwinding is bykans dat die buurland geskiedenis sal maak deur die eerste Afrika-land te wees wat elektronies ‘n verkiesing hou.

Swapo het trouens deur die jare weinig opposisie gehad sedert dit in 1990 aan bewind gekom het. In die 2009 verkiesing het Swapo 75% van die beskikbare setels in die nasionale verkiesing gewen. Net die Rally for Democracy and Progress kon 11% steun monster en die DTA ‘n skamele 3% stemme gekry.

Selfs nie die verandering van staatshoofde sal die politieke landskap omkrap nie. Die huidige staatshoof, pres. Hifikepunye Pohamba, beklee sy amp reeds vir twee termyne en kan nie weer die pos beklee nie. Hy sal waarskynlik vervang word deur die eerste minister, Hage Geingob, wat as Swapo se presidensiële kandidaat aangewys is. Geingob is al ‘n ou hand in Swapo-geledere en dien al in sy tweede rondte as regeringshoof.

Die deelname van die nuwe Namibian Economic Freedom Fighters (NEFF) aan die verkiesing kan dalk kleur verleen aan ‘n andersins voorspelbare verkiesing. Die NEFF is ‘n kleinboetie van die Julius Malama-groepering in Suid-Afrika. Net soos in Suid-Afrika is die buurland se inwoners heel vatbaar vir politieke aanstigting weens Swapo se kaderontplooiing, korrupsie, gebrek aan dienslewering en onvermoë om werkloosheid en armoede aan te spreek.

Foto – Hage Geingob