Naald in hooimied gesoek

Al goeie ondervinding opgedoen om die spreekwoordelike naald in ‘n hooimied te soek?

Wel, ‘n Italiaanse kunstenaar het besluit om daad by die woord te voeg.

Sven Sachsalber soek as deel van ‘n kunsuitstalling vir 48 uur deur ‘n hooimied na ‘n naald wat deur die direkteur van die Palais de Tokyo-galery in Parys daarin weggesteek is.

Die eerste skof van sy soektog is lewendig via video gebeeldsend. Na ‘n ruskans sal hy die moeitevolle taak voortsit om die naald te probeer kry.

Sachsalber het al voorheen soortgelyke optredes gehou, soos om saam met ‘n koei in ‘n kamer te wees, ‘giftige’ sampioene te eet, en boomtakke met ’n handsaag af te saag.

Dalk probeer Sachsalber die onsinnighede waarmee die mensdom hulle besig hou op hierdie manier uitbeeld, alles in die naam van kuns.