‘n Komitee vir wapenstilstand in parlement

Nóg ‘n komitee is aangestel, dié keer om die politieke proses te lei om ‘n oplossing vir debatvoering in die parlement te kry.

Die komitee sal op die been gebring word ingevolge ‘n ooreenkoms wat tussen adjunk-president Cyril Ramaphosa en parlementêre leiers van opposisiepartye bereik is.

Die speaker, Baleka Mbete, het gesê sy is dankbaar oor die vergadering. Van die opposisielede was glo in swart geklee uit protes (waarskynlik nog eerder met betrekking tot hulle partyleier se “Black Sash” dae) toe die parlement sitting vandeesweek hervat is. Hulle het geweier om op te staan toe Mbete die verrigtinge geopen het. Dit volg na die onlangse rellie in die nasionale vergadering waarna hulle gesê het dat hulle haar nie verder as speaker erken nie.

Die parlementêre sitting het gevolglik baie stram verloop. Beswaar is aangeteken teen verwysings na Mbete as die “agbare voorsitter van die ANC”. Mbete het dit teruggetrek gekry deur haar te beroep op die “gees van die ooreenkoms” wat Ramaphosa en die leiers van die opposisiepartye bereik het.

Striemende verwyte oor die inroep van die polisie om tydens die drama ‘n parlementslid van die Ekonomiese Vryheidsvegters te verwyder en die regverdiging daarvan is tydens die sitting oor en weer aangehoor.