Munisipaliteit betaal miljoene vir vullisverwydering

Die munisipaliteit van Bloemfontein spandeer sowat R26 miljoen elke jaar om kontrakteurs te betaal vir vullisverwydering.

Die betaling geskied te midde daarvan dat die munisipaliteit oor sowat 50 vragmotors beskik wat vullisverwydering kan hanteer, maar slegs die helfte van die voertuie is in gebruik.

Die stad se bestuurder sê tien van die voertuie is ouer as 20 jaar wat beteken dat hulle gereeld buite werking is en ’n stuk of 10 ander kan nie gebruik word nie want hulle oorverhit gedurig.

’n Kenner het egter daarop gewys dat die voertuie net behoorlik gediens moet word by ’n agentskap, maar die indruk word geskep dat die wil om goeie bestuurspraktyke toe te pas, die ontbrekende faktor is.

Ander verskonings wat aangevoer is waarom slegs die helfte van die voertuie gebruik word, is omdat hulle gelisensieer moet word en soms gediens word.

R26,736,865 is gedurende die afgelope finansiële jaar betaal om kontrakteurs te vergoed om huisvullis te verwyder.