Munisipale ‘staatsgreep’ uitgevoer

Optrede word geëis nadat die onstuimige binnegevegte tussen faksies in die ANC by die ‘Potgietersrus’ munisipaliteit in Noord-Transvaal ontaard het in ‘n soort staatsgreep waarin die polisie na bewering gebruik is om nuwe raadslede aan te stel.

Na bewering het polisielede onder aanvoering van ‘n polisie generaal, ene Mphalatji, die veiligheidsbeamptes, personeel en raadslede beveel om op die grond te lê terwyl vuurwapens op hulle gerig is.

Die hoof van "Good Governance Africa", John Endres, het in sy reaksie op die gebeure gesê om te dink dat die polisie ‘n munisipale raad kan dwing om nuwe raadslede in te sweer, is "meer as bisar".

Volgens hom is die polisie se taak om misdaad te ondersoek en misdadigers aan te keer. Hulle taak is nie om te kies watter politieke verteenwoordigers die poste sal beklee nie.

“Stel jou voor indien hierdie tipe ding in die parlement moet gebeur”,  het hy gesê.

Die munisipale bestuurder is hierna in hegtenis geneem en die raad is gedwing om nege nuwe raadslede in te sweer. Daar was geen kennisgewing, agenda of mandaat hiervoor en is daarom onwettig, aldus sekere lede van die opposisie.

Die woelinge by die munisipaliteit is al ‘n geruime tyd aan die gang en slegs enkele maande gelede is ’n hofstryd gevoer om die munisipaliteit onder administrasie te plaas. Die burgemeester en munisipale bestuurder was sentraal in hierdie stryd tussen die plaaslike inwoners en die provinsiale regering.  

Die ANC het daarna die lidmaatskap van 22 raadslede opgeskort wat saam met opposisiepartye gestem het dat die twee ampsdraers afgedank moet word. Inwoners wou egter nie toelaat dat hierdie 22 raadslede deur die ANC afgedank word nie.

Intussen kon die ingryping deur die provinsiale regering by die munisipaliteit nie plaasvind nie omdat munisipale amptenare eenvoudig toegang tot kantore weier aan die provinsie se werknemers. Die speaker van die raad weier weer dat raadsvergaderings hervat word.