Motor rubriek – Willys Aero Ace 1952

Hierdie motor is voorsien deur die Willys – Overland motor maatskappy van Amerika. Dit was ‘n sedan motor en was beskibaar as ‘n vier-of tweedeur model. In hierdie geval word daar gekyk na die tweedeur model.

Binne-afwerking was uitstaande en daar is gebruik gemaak van langbank sitplekke voor en agter en was dus ideaal om ‘n inryteater mee te gaan besoek.

Om by die agtersitplek te kom is die voorste rugleuning vorentoe gedruk en daar was dan genoeg plek om sonder moeite deur te klim na agter. ‘n Ronde spoedmeter was regvoor die bestuurder gemonteer en in daardie jare was daar nog nie lugversorgers geinstalleer nie. Binne bereik van die bestuurder was daar twee knoppe met dun staalkabels wat getrek kon word om flappe te open wat sodoende die lugverspreiding binne in die voertuig kon verbeter. Padhouvermoë was goed en alhoewel tromremme gebruik is, was die remvermoë van hoogstaande gehalte.

Die rathefboom was aan die stuurkolom gemonteer en ‘n driespoed meganiese ratkas was gebruik om die krag oor te dra na die agterwiele. ‘n Snelrat was beskikbaar op tweede en derderat. Die werking was ‘n kombinasie van elektries en meganies en die manier om dit geskakel te kry was gedoen op die volgende wyse: Wanneer jy weggetrek het en oorgeskakel het na tweede rat moes daar versnel word na 20 myl per uur, dan is die brandstofpedaal gelos en weer getrap en in daardie tyd is die snelrat geaktiveer. Of daar kon oorgeskakel word na derde rat en dieselfde prosedure kon dan gevolg word om die snelrat te skakel, na derde rat. Wanneer daar byvoorbeeld in berge wêreld gereis is en daar moes oorgeskakel word na ‘n laer rat vir meer krag, was dit slegs nodig om die brandstofpedaal plat te trap, daar was ‘n skakelaar onder die brandstof pedaal gemonteer wat ‘n elektriese “solenoid”  op die ratkas geaktiveer het, en daar is dan teruggeskakel na ‘n laer rat. Dieselfde ratkas is in Studebakers ook gebruik.

‘n Ses silinder inlyn enjin is gebruik met die inlaatkleppe wat oorhoofs was en in die silinderkop gemonteer, terwyl die uitlaatkleppe in die silinderblok gemonteer was. Die nokas was in die silinderblok en die oorhoofsekleppe is deurmiddel van klepstoters oopgemaak. Hierdie enjin het bekend gestaan as die “F-Head” enjin. Dieselfde enjin is in die Jeep bakkies gebruik en ook in die Willys Overland stasiewa. ‘n Carter YF vergasser was gebruik om die brandstof te voorsien en die smoorklep se werking was meganies en daarvoor was daar ook ‘n knop op die instrumentpaneel wat getrek moes word om dit te aktiveer.

Die windskermveërs was meganies en is in werking gestel deur ook ‘n knop te trek wat dan ‘n klep geopen het, om vakuum wat vanaf die inlaatsproeistuk afkomstig was, aan te wend om ‘n meganiese stuk toerusting in bedryf te stel.