Motor rubriek – Toyota Yaris 1300 Luikrug

‘n Aantal jare gelede het die Toyota Yaris op die motortoneel verskyn en sedertdien het dit ‘n vaste staanplek verwerf wat dit ‘n baie gewilde motor gemaak het. Aanvanklik was die instrumente in die middel van die instrumente paneel gemonteer maar in die 2015 model is dit regvoor die bestuurder gemonteer en duidelik leesbaar deur die speke van die stuurwiel.

Behalwe dat die binne-afwerking verbeter is, is die middel konsole met nagenoeg 23 mm verhoog en die rathefboom met 30 mm verkort. Die instrument paneel se bedekking is verdik en dus sagter. Verder is die glans afwerking vervang met ‘n meer “mat afwerking” wat dadelik die indruk skep van duursaamheid.

Ten einde te verseker dat die padhouvermoë verbeter is die bakwerk verstewig met bykomende sweisplekke, herontwerpte tonnel, beter windskerm verbindingsmateriaal, herontwerpte wielboë en stewiger agterstamper hegstukke. Bogenoemde het tot gevolg dat die bakwerk stewiger is en minder geneig is om mee te gee.

Die suspensie is opgegradeer en die agterste wringstaaf is stywer met sagter kronkelvere voor en agter terwyl die skokbrekers ook herontwerp is wat tot gevolg het dat minder padgeraas deurgegee word na die kajuit. Die opmerklikste verandering is die neusgedeelte. Die sierrooster se vorm is heeltemal verander asook die vorm van die hoofligte. Die enjinkap is meer solied maar het ook meer vloeiende lyne. 15 duim allooiwiele rond die buiteafwerking af. Groot agterligte verseker dat die motor duidelik sigbaar is vir ander padverbruikers.

Die binne-afwerking is verbeter en elektriesbeheerde vensters, ‘n sentrale sluitstelsel, kraghulp vir die stuurwiel, ABS remme met EBD en remondersteuning is standaard toerusting wat help verseker dat die insittendes se veiligheid verbeter word. ‘n Enkelkanaal lugversorgingstelsel en radio verbeter die gerief van die insittendes. Die agterste sitplekke se leunings kan plat gevou word wat aansienlike bykomende pakplek voorsien terwyl die voorste sitplekke se verstellings meganies gedoen kan word.

‘n Dwarsgemomteerde, 1329 kub. sentimeter, 16 klep, vier silinder enjin gekoppel aan ‘n sesspoed ratkas word gebruik om die krag oor te dra na die voorwiele. 73 kW is teen 6000 o.p.m. en 125 Nm wringkrag is by 4000 o.p.m. beskikbaar. Na verneem word is die brandstofverbruik 6,2 l/100 km en die maksimum snelheid 175 km/u.

Die Toyota Yaris is inderdaad ‘n motor met goeie waarde vir geld.