Motor rubriek – Nissan X-Trail

Die Nissan X-Trail was nog altyd ‘n baie gewilde voertuig in S.A. Aan betroubaarheid het dit nie ontbreek nie en die “vierkantige” bouvorm is ‘n bekende gesig op die land se paaie.

Die nuutste weergawe is meer vaartbelyn met vloeiende lyne en op die oog af lyk dit kleiner maar in werklikheid is dit 30 mm breër en die wielbasis is met 75 mm verleng. Dit beteken dat daar meer plek is binne-in die voertuig en dit is dus meer prakties van aard. Binnetoerusting is luuks en maklik om te gebruik. ‘n Elle lang lys van toerusting is beskikbaar byvoorbeeld ‘n lugversorger, radio, satelliet navigasiestelsel met ‘n aanraakskerm, spoedbeheer en nog talle ander handige kenmerke.

Die veiligheidsaspek is ook deeglik aangespreek en daar is voorsiening gemaak vir ABS remme met EBD ondersteuning, ses lugsakke vir die bestuurder en passasiers se veiligheid ens. Verder is daar ook voorsiening gemaak vir ‘n “blindekol” en ‘n padbaan verandering waarskuwingstelsel.

Soos reeds genoem is die buite-afwerking meer vloeiend en die neusgedeelte met die kolligte en hoofligte vorm ‘n eenheid saam met die enjinkap. Die enjinkap opsigself skep die indruk dat dit ‘n soliede en stewige voertuig is. Die agterligte is duidelik sigbaar en selfs van die kant kan die ligte duidelik gesien word wanneer daar rem getrap word. Netjiese sierwiele voltooi die buite prentjie.

Die agterste deksel maak hoog oop en toegang tot die voertuig is maklik. Daar is baie pakplek en hierdie is ‘n ideale voertuig vir die natuur en buitelewe entoesias.

Die voertuig is beskikbaar in petrol en diesel modelle. Die viersilinder 2,0 liter XE petrolweergawe is slegs met ‘n sesspoed handratkas beskikbaar terwyl van die ander modelle beskikbaar is met ‘n outomatiese ratkas. In totaal is daar agt verskillende modelle beskikbaar wat ‘n duidelike aanduiding is dat Nissan aan al sy kliente se vereistes probeer voldoen. Die vierwiel aangedrewe voertuie het drie verskillende aandrywing posisies wat deurmiddel van ‘n verstelbare knop op die middel konsole gekies kan word.

Volgens Nissan is die brandstofverbruik van die XE petrolweergawe 8,3 l/100 km. Die nuwe X-Trail kom standaard met ‘n sesjaar/150,000 km waarborg en ‘n vyfjaar/90,000 km diensplan. Indien dit vir u nodig is om ‘n nuwe voertuig aan te skaf, kan u gerus u naaste Nissan handelaar gaan besoek en die motor vir ‘n toetsrit neem.