Mishandelde leeuwelpies kom in SA aan

Twee mishandelde leeuwelpies is nou in Suid-Afrika, danksy die ywer van die organisasie Campaign Against Canned Hunting (Cach), wat deur Chris Mercer van die Wildernis gestig is. 

Die welpies is deur ‘n vrou in Benidorm, Spanje misbruik vir foto’s saam met toeriste. Sy het hulle slegs melk gevoer om hulle groei te stuit.

Cach se verteenwoordiger in Johannesburg, Linda Park, het van ‘n foto op Facebook kennis geneem oor die welpies en hulle organisasie in Spanje se verteenwoordigers, C.J. en Luis Munoz gekontak om verder ondersoek in te stel.

Die welpies is skynbaar by ‘n Franse sirkus aangekoop. Nadat die Guardia Civil Seprona (Spanje se polisiediens vir die bewaring van natuurlewe) op die leeus beslag gelê het, kon hulle behoorlike mediese dienste kry. 

Die welpies, Yame en George sal by die leeu-fluisteraar, Kevin Richardson se hawe vir leeus buite Pretoria gehuisves word aangesien daar geen ander tuiste vir hulle in Europa gevind kon word nie.