Misdadigers aangekeer by Lesotho-grens

Die smokkelhandel oor Suid-Afrika se ‘poreuse’ grense is al vir jare vir misdadigers en sindikate ‘n baie lonende bedryf.

Beslag is die afgelope tyd gelê op ‘n aansienlike buit bestaande uit diamante, dwelms en gesteelde voertuie by Suid-Afrika se Vrystaatse grens met Lesotho.

Twee mans van Lesotho is aangekeer toe hulle wederregtelik die grens na Suid-Afrika met 329 diamante ter waarde van R3,2 miljoen probeer oorsteek het. Twee Suid-Afrikaners is by die grens met 800 kg dagga met ‘n geraamde straatwaarde van R800,000 vasgetrap.

Op dieselfde dag is twee gesteelde skoolbusse gekry wat in die modder in die Caledonrivier vasgeval het. Nog vier ander voertuie is geskut sodat dit deur die motordiefstaleenheid geïdentifiseer kan word.