Ministers skuldig, nie amptenare

ANC ministers is die skuldiges vir die Nkandla-fiasko, en nie die amptenare nie.

Dit is die bevinding van ’n parlementêre ad hoc-komitee volgens ’n verslag wat uitgereik is, maar wat tot hede stil gehou is vir die media.

Die verslag is glo na ’n bekende dagblad gelek.

Volgens die verslag is dit nie amptenare wat gefouteer het soos wat voorheen luidkeels uitbasuin is nie, maar blykbaar sekere ministers wat nie hulle werk behoorlik gedoen het nie.

Die ministers het nie die reëls en regulasies gehoorsaam, en ook nie die korrekte prosedures gevolg nie.

Volgens die verslag was die ministers nalatig, en dit beteken blykbaar dat die amptenare op instruksies gewerk het.

Die geheime kabinetsmemorandum, wat prosedures vir veiligheids-verbeterings by presidensiële wonings bepaal, is glo nie nagekom nie.

Die ministers se nalatigheid het glo daartoe gelei dat die koste by Nkandla die hoogte ingeskiet het.

Politieke ontleders sê dit is vreemd dat ministers nou eers uitgewys word as die skuldiges, en wat dit nog vreemder maak, is die optrede van die komitee met die geheimhouding van die verslag wat nou aan die media gelek is.

Die komitee moet teen 14 November sy finale verslag aan die parlement oorhandig.