Mensehandel neem toe, ook in SA

Dwelmsmokkelary, of onwettige wapenhandel, beide is ewe skrikaanjaend, maar niks kom by die mees moderne wyse van slawerny nie.

Terwyl die wêreld gerieflik hieroor swyg, is dit ’n misdryf wat dag na dag toeneem, ook hier in Suid-Afrika.

Slawerny, waar die slaweklok die werksure gereël het, is lankal vergete, maar die moderne slawerny is veel wreder, en derduisende mense in Suid-Afrika is deel van die bedryf, hier reg onder die neus van ’n regering wat daarop roem dat hulle vir die mense van die land omgee….

In 2013 was twee mense skuldig bevind in mensehandel-bedrywighede.

Vandag is daar duisende mense wat onderwerp is aan die gril en gier van diegene wat hulle aanhou as slawe.

Hoeveel eienaars en werwers in die bedryf is, kon nog nie bepaal word nie, maar internasionale organisasies beraam dat daar etlike duisende eienaars van slawe is, wat skatryk geword het met die inkomste wat die slawe genereer.

Menige jeugdiges word na stede gelok met die vooruitsig om ’n goeie werk te kry waar hulle ’n bo gemiddelde inkomste sal ontvang, en word dan met dwelmmiddels verslaaf om as verpligte prostituut ’n sekere inkomste vir haar eienaar te verdien.

Volgens die gegewens wat deur die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) vrygestel is, het die getal slawe gegroei tot bykans 5 miljoen mense regoor die wêreld.

Die “eienaars” van die slawe rol in die geld, want hulle hou die slawe verantwoordelik om daagliks ’n bepaalde bedrag te verdien, en in ruil daarvoor kry hulle kos en klere wat by hulle “beroep” pas.

Benewens die getal slawe, is daar ook ’n geraamde 20 miljoen mense wat op ander maniere as slawe aangehou word.

Elke land ter wêreld sit glo met die probleem, en regerings verkies om nie te veel hieroor te sê nie aangesien dit die land en regeerders se beeld benadeel.

Dit is egter nie net vroue en jong meisies wat slagoffers is nie, want ’n aansienlike persentasie is mans wat as slawe werksaam moet wees. Van hulle moet ook soos prostitute handel, en ander word aangehou om swaar handewerk te verrig.

Onbevestigde berigte lui dat duisende mans opgelei word om terreurdade te verrig, en word ingespan om rooftogte uit te voer om te deel in die wins wat uit die goedere gegeneer word.

Om seker te maak die slaaf vlug nie weg nie, is hy altyd deel van ’n span wat nie huiwer om ’n vlugtende slaaf dood te skiet nie.

Mans word gelok met moontlikhede soos goeie betaling in ’n ander land vir sokker of selfs vir golf wat gespeel kan word.

Talle mense word gewerf om op plase te kom werk in Suid-Afrika, en beland dan in ’n vreemde land waar hy niemand ken en selfs nie seker is waar hy hom bevind nie.