Mensdom land op komeet

Reuse vooruitgang is gemaak vir ruimte-ontdekking toe die landingstuig, Philae, suksesvol op ‘n komeet geland het. Hiermee is die bykans onmoontlike bereik deur vir die eerste keer in die geskiedenis ‘n gerobotiseerde tuig op ‘n komeet te laat land.

Philae (Grieks vir vriend) is vroeër van die Rosetta-tuig losgelaat waarna dit op die komeet, 67P/Churyumov–Gerasimenko, halfpad tussen die wentelbane van Jupiter en Mars geland het. Dit sal die eerste sending wees wat ’n komeet in die fynste besonderhede bestudeer.

Bykans ‘n halfmiljoen mense het regstreeks by die Europese Ruimte-agentskap (ESA) ingeskakel om na die landingsproses te kyk. Philae stuur sy boodskappe via die Rosetta-tuig wat hom losgelaat het. Dié sal om die komeet bly wentel.

“Dit is ’n groot tree vir die menslike beskawing. Dit lyk maklik, maar dit is nie,” het die direkteur van die Europese Ruimteagentskap (ESA), prof. Jean-Jacques Dordain, gesê.

Komeet 67P/Churyumov-Gerasimenko snel voort teen 55000 km/h. Die tuig sal nou vir die volgende 64 uur eksperimente doen met die tien instrumente wat aan boord is, totdat die batterye pap is. Daarna sal die sonpanele dit weer herlaai.

Komete is oorblyfsels van die sonnestelsel se vorming 4,6miljard jaar gelede en met die inligting wat ingesamel sal word, kan wetenskaplikes meer oor die ontstaan van die aarde en heelal te wete kom.

Die twee tuie, wat langer as tien jaar gelede van die aarde weg is, is 510miljoenkm van die aarde en seine neem 28minute en 20sekondes om tot by die ESA se operasionele ruimtesentrum in Darmstadt, Duitsland, uit te kom.