Mediese afval skep gesondheidsrisiko

Mediese afval wat ’n ernstige gesondheidsgevaar inhou, is op ’n oop stuk grond, waar vrye toegang moontlik is, buite Bloemfontein gevind, en het die Departement van Gesondheid se woede laat opvlam.

Die Gesondheidsdepartement se woordvoerder blameer glo die Heidinge Medical Waste maatskappy daarvoor dat hulle groot hoeveelhede mediese afval onwettig langs die Rocklands woonbuurt afgelaai het terwyl dit nie ’n stortingsterrein is nie.

Die maatskappy, Heidinge Medical Waste is glo die eiendom van dr. Leon Wagner, ’n forensiese patoloog.

Vroeër is Wagner op borgtog van R5,000 vrygelaat weens beweerde onwettige storting van mediese afval op terrein in Hamilton.

Wagner sal in Februarie 2015 in die hof moet verskyn op aanklag van onwettige storting van mediese afval wat ’n ernstige gesondheidsgevaar vir mense inhou.

Afval wat op die terrein gevind is, sluit ondermeer in spuitnaalde, bloedbevlekte materiale, gebruikte doeke, houers ou bloed, en verskeie soorte medisyne wat weens vervaldatums nie gebruik kan word nie.

Die woordvoerder van die Departement beweer dat Wagner die stuk grond by die munisipaliteit gekoop het, maar nie verklaar het waarvoor dit gebruik sal word nie.