Media kry klap oor SA-misdaad

Tydens ‘n toespraak oor die gewelddadige misdaad in Suid-Afrika wat nou dringend strenger wetgewing sou noodsaak, het die ANC-bewind se president Jacob Zuma ‘n skramshou aan die media uitgedeel.

Volgens Zuma is die media besig om ‘n negatiewe indruk oor Suid-Afrika te skep. Dit is egter nodig dat die land bevorder word, het hy aan die nasionale raad van provinsies vertel.

“Een van die kulture wat ons het, is om die land negatief te bemark. En dit is belangrik om diegene te ontmoet wat stories ‘skep’, om te verstaan dat ons die land moet bevorder.”

Hy het nie verder hierop uitgebrei nie.

Zuma het wel die oproep van die ANC geëggo dat die Wet op Vuurwapenbeheer dringend hersien moet word. Dit volg kort na die moord op die sokkerkaptein, Senzo Meyiwa, en die skietery op die ANC-parlementslid, Jackson Mthembu, tydens ‘n die rooftog by ‘n kitsbank in Witbank. Zuma het ook verwys na die vlaag rooftogte die afgelope paar maande by besighede in winkelsentrums.

Gedurende die afgelope 20 jaar onder ANC-bewind is daar heeltemal beheer oor misdaad verloor. Volgens die jongste SAPD-syfers was daar sowat 16 259 moorde in 2012/13 wat tot 17 068 in 2013/14 gestyg het. Daarvolgens is 809 meer mense as in die vorige jaar vermoor. 

Suid-Afrika se jongste beskikbare moordsyfer is vyf keer hoër as die gemiddelde wêreldkoers van 6 moorde per 100,000 mense is. Luidens ’n internasionale studie deur die Verenigde Nasies verlede jaar, was Suid-Afrika die land met die agtste hoogste moordsyfer per 100000 mense.

Weens die anargie in die parlement en sy vertakkinge is die toegang tot die gebou waar Zuma sy toespraak gehou het, beperk. Daar is selfs "om verskoning" gevra vir hierdie stap. Intussen weier Zuma om sy gesig in die nasionale raad van die parlement te wys weens die "vyandige klimaat" wat daar teen hom heers oor verskeie debakels, waarvan Nkandla seker die afgelope maande die hooffokus was.