Matrikulant byna doodgeslaan

’n Jong seun van Brandfort in die Vrystaat, wat besig is met die matriek eindeksamen, en werksaam is in ’n kroeg om geldjies te verdien vir moontlike verdere studies, is vir dood agtergelaat toe drie swartes hom aangerand het.

Sy hele toekoms is in gedrang na die mans hom aangerand het toe hy hulle versoek het om te betaal vir die glas wat hulle gebreek het.

Corné Verwey (18) is sodanig beseer dat hy in ’n kritieke toestand verkeer in ’n hospitaal en sal nie die laaste vakke van die eksamen kan skryf nie.

Hy studeer aan die Hoërskool Staatspresident Swart, en werk tydelik by die Koffie Sportkroeg om vir sy toekomstige studies te betaal en vir die huishouding ’n bydrae te maak.

Die drie het hom glo met bottels aangerand, kort voor sluitingstyd, toe hy hulle versoek het om vir die gebreekte glas te betaal.

Die mans het hom geslaan, geskop en met bottels gesteek.

“Ons is eintlik opstandig dat volwasse mans ’n skoolkind, wat werk vir geld om te oorleef, so aanrand. Dit is barbaars,” was die mening van die skoolhoof.

Foto – Corné Verwey