Malema land op sy blaker

Die Rooi Brigade leier, Julius Malema, het op sy rooi baadjie gekry in ‘n onderonsie toe hy ‘n wag in Parktown te lyf gegaan het.

Alles het begin toe Malema by samesprekings met adjunk-president Cyril Ramaphosa opgedaag het en nie wou toelaat dat sy aktetas geskandeer word nie. Die vergadering is gehou om die voortslepende geskille tussen die ANC-bewind en die opposisiepartye te probeer bylê.

Hy het aan ‘n lyfwag van Ramaphosa gestamp en geklap. Die twee het mekaar toe gepak, en die volgende oomblik het Malema op die naat van sy rug gelê.

Malema is opgehelp en wou weer handgemeen raak, maar sy lyfwag het tussenbeide getree. Hy het by die konferensiesentrum ingegaan terwyl die wag hom toegesnou het dat Malema dink hy is ‘n koning.

‘n Hele tirade is agterna deur Malema gelewer oor “ANC-misdadigers” wat nie deursoek word nie. Hy het die kans gebruik om teen Ramaphosa uit te vaar wat volgens hom ‘n aanstigter tot moord (by Marikana) sou wees.  Malema meen iemand soos president Jacob Zuma moet sommer twee keer geskandeer word. Hy ervaar glo daagliks teistering deur “ANC-misdadigers en polisiebeamptes wat ANC is”.

Hy was onlangs in ‘n kitskosplek op Tzaneen en by ‘n sportstadion in Pietersburg by ‘n rondstampery aan mense betrokke.