Lourierkrans vir puik digteres

Die digteres, Driekie Grobler, kry die afgelope tyd met besondere onderskeiding erkenning vir haar gedigte.

Haar debuutbundel, Hartsnare, is in ‘n kort tydjie uitverkoop en gaan nou vanweë die gewildheid daarvan, herdruk word. Dit gaan binnekort as ‘n e-boek beskikbaar wees.

Haar tweede digbundel, Sirkeldans is kort gelede in Florauna, Pretoria bekendgestel. Die bundel is selfs vir dowes deur middel van vingertaal op Kruiskyk toeganklik gemaak. Grobler het ook blootstelling gehad via verskillende radiostasies, waar verskeie van haar gedigte voorgelees is.

Sy het het ook die prestasie behaal om vanjaar die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) se gedigtekompetisie in die kategorie, Volkspele, te wen. Dit is ook vir haar ‘n groot eer dat haar wengedig, “Volkspel” ook gekies is om met die honderste herdenking van die Volkspele beweging se bestaan geassosieer te word. Verlede jaar was sy ook ‘n kategorie-wenner in die GHA-gedigtekompetisie met haar gedig, “Want ek is vrou”. Hierdie wengedig gaan in die 2014-Bruidsgids opgeneem word.

Om alles te kroon, word ‘n CD van 20 van haar Christelike gedigte wat voorgelees gaan word met musiek in die agtergrond vir die komende Kersfees in vooruitsig gestel.