Lotto-wenner wou moord pleeg

Hy het ’n stywe bedrag deur middel van ’n Lotto-kaartjie gewen, en toe blykbaar iemand gehuur om sy vrou te vermoor.

Karl Stellenberg (51) en sy kameraad, Jim Sampson (48) is in die rondgaande hof onderskeidelik 18 en 15 jaar tronkstraf opgelê vir die beplande moord wat hulle wou uitvoer.

Frendeline (38) was sowat 8 maande gelede aangeval en is vir dood agter gelaat met 23 meswonde in haar lyf.

Sy het die aanval oorleef en het na afloop van die hofsaak gesê sy is dankbaar dat sy nou verlos is van die nagmerrie, en nou kan voortgaan met haar lewe.

Die egpaar was 12 jaar getroud, en het in 2002 meer as R3 miljoen gewen met ’n Lottokaartjie.

Haar man het later die hulp van Sampson gekry en hom R3,500 betaal om sy vrou te vermoor. Sy het neergeval buite die huis nadat sy aangeval is, maar ’n verbyganger het haar probeer help en mediese hulp ontbied.

Regter Ashton Schippers het gesê Frendeline moet saamleef met die wete dat die pa van haar kinders haar wou vermoor, en hy reken die motief was geld, omdat sy vrou vir R8 miljoen verseker was, en hy die begunstigde daarvan.

 

.