Los die swak kommentaar

Geagte Redakteur

Die Vryburger

 

Dit is met hartseer en ontsteltenis dat ek moes lees van die kommentaar wat enkele lesers lewer by ’n onderwerp wat handel oor die nood van minder bevoorregte kinders van ons volk.

Ons is veronderstel om beskaafd op te tree, en deeglik kennis te neem van die Kinderfonds en wat daarmee bereik wil word.

Ek verbaas my dat daar dan volwasse mense is, wat die gesprek in ’n rigting dwing wat spreek van onverskilligheid, en selfs van swak smaak.

Die geluk is dat dat net ’n paar is wat hulle hieraan skuldig maak, maar dit is ’n paar te veel.

Die onderwerp is van ernstige aard, en kommentaar daarop behoort eerder ’n finansiële bydrae te wees as die ligsinnige uitlatings wat gemaak word, terwyl dit geen betrekking het op die onderwerp nie.

Miskien sou dit raadsaam wees om diegene wat hulle hieraan skuldig maak, liewer in die toekoms te verbied om enige kommentaar te lewer.

’n Teleurgestelde leser

Hansie Viljoen

Pretoria