Kragtoevoer is koud en bewolk

Elektrisiteitsvoorsiening deur Eskom bly steeds op ‘n mespunt. Die koue en bewolkte weerstoestande word voorgestoot om dit onder Suid-Afrikaners se aandag te bring dat daar die volgende klompie dae landswyd baie spaarsaam met krag gewerk moet word.

Geen melding word van beurtkrag gemaak nie, maar waarskuwings via televisie moet maar dopgehou word.

Die rede waarom die netwerk onder druk is, is die verlies van “bykomende eenhede by kragstasies weens tegniese foute”, aldus Eskom.

Die opwekkingskapasiteit van die Majuba-kragstasie is volgens Eskom tans nagenoeg 1 600 MW (Die aanleg kan 4 110 MW krag opwek). Nat steenkool kry die skuld, maar daar word ‘n “nat steenkool beheerstrategie” gevolg om die risiko van nat steenkool by ander kragstasies te beperk.

Die gebruik van nat steenkool is juis deur kenners as een van die redes aangevoer waarom ‘n silo, waarin 10 000 ton steenkool opgegaar is, se struktuur sodanig verswak het dat dit vroeër op die vervoerbandstelsel by die Majuba-kragstasie ineengestort het.