Kragonderbrekings sleg vir sake

Die sakebedryf in Suid-Afrika is toenemend bekommerd oor Eskom se vermoë om elektrisiteit aan die land te voorsien.

Die ramp by die Majuba kragstasie moet gesien word in die konteks van ‘n toename in die onbetroubaarheid van Eskom se hele vloot kragstasies, het die Kaapse Kamer van Handel en Nywerheid gesê.

Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Kamer van Handel en Nywerheid, Neren Rau, het verwys na die stakings in die myn- en vervaardigingsbedrywe en benadruk dat hierdie sektore hulle produksieverliese gedurende die res van die jaar moet opmaak. Daarvoor is betroubare elektrisiteitsvoorsiening nodig om optimale ekonomiese aktiwiteit te verseker, aldus Rau.

Sakeleiers meen wanbestuur en swak instandhouding is van die hoofredes waarom Eskom teruggesak het van ‘n verskaffer van goedkoop elektrisiteit tot ‘n onbetroubare voorsiener van duur elektrisiteit.