Koue en eendeweer voorspel

Koue reënweer gaan van Vrydag die Kapenaars aan die winter herinner, terwyl die binneland donderstorms kan verwag.

’n Kouefront sal die Kaap teen Vrydagmiddag tref en ‘n minimum temperatuur van 12 grade kan oor sekere dele van die provinsie sorg dat mense weer hulle warm klere moet uithaal.

Sneeu word nie voorspel nie, maar die Kapenaars kan reën verwag.

Die koue weer sal teen Saterdag na die Oos-Kaap beweeg. Teen Sondag sal die kouefront egter al weer iets van die verlede wees.

Donderstorms kan regoor die naweek in die binneland uitsak, en motoriste is gemaan om baie versigtig te bestuur.