Korrupsie is oorsee ‘n ANC kenteken

Die titaniese stryd om president Jacob Zuma verantwoordelikheid te laat aanvaar vir korrupsie-debakels soos Nkandla of die omstrede wapentransaksie, is nou al so opmerklik uitgerek dat die buitelandse media dit nie langer kon ignoreer nie.

Die aanklagte wat by verskillende polisiestasies in Suid-Afrika gelê is oor Zuma se onregmatige spandering by Nkandla, is deur die nuusagentskap, Agence France-Presse (AFP), die wêreld ingedra en berigte daaroor is in die buiteland gepubliseer.

Omtrent die kritiek oor Nkandla word die kern van die kwessie saamgevat deur te berig dat Zuma se administrasie deur talle Suid-Afrikaners beskou word as verdraagsaam teenoor korrupsie en onbevoegdheid.

AFP het baie deeglik oor die Nkandla-sage berig en het onder meer die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die presidensie genader om te reageer. Daar word ook opgemerk: “Dit is nie die eerste keer dat Zuma kriminele aanklagte in die gesig staar nie”.

Hierna word verwys na die wapentransaksie en die 700 aanklagte van korrupsie wat teen Zuma laat vaar is, en die pogings sedertdien om die ondersoek daarna te heropen.

En dan ten slotte word ironies gemeld dat ‘n aanklag in 2006 teen hom laat vaar is oor ‘n vrou wat hy na bewering sou verkrag het.