Koop nog kerse

Kragvoorsiening deur Eskom sal Donderdag 6 November steeds onder druk wees en hierdie toedrag van sake sal volgende week voortduur.

Geen beurtkrag word egter in vooruitsig gestel nie, maar verbruikers is nogmaals gevra om hulle elektrisiteitsgebruik regdeur die dag te verminder. 

Intussen word die opwekkingskapasiteit by die Majuba-kragstasie in Oos-Transvaal stelselmatig verhoog deur steenkool met vragmotors aan te ry. ‘n Silo waarin 10,000 ton steenkool opgegaar is, het vroeër op die vervoerbandstelsel by die Majuba-kragstasie ineengestort nadat ‘n kraak in die konstruksie verskyn het.

‘n Ondersoek is intussen geëis om die moontlikheid te bekyk dat die voorval veroorsaak is deur nalatigheid aan die kant van Eskom. Die kragvoorsiener is sedert die begin van die jaar gewaarsku dat silo onder geweldige stremming is, maar daar is niks daaromtrent gedoen nie. Volgens Eskom het hulle die silo in September verlede jaar ondersoek en geen probleme opgemerk nie.