Komeetbeelde is ‘n sege

Die landingstuig, Philae, het die eerste fotobeelde van die uiters onherbergsame komeet waarop dit geland het na die aarde gestuur.

Die swart-en-wit foto’s van die rotsagtige oppervlakte van die komeet, 67P/Churyumov-Gerasimenko, is die resultaat van ‘n verstommende prestasie vir die wetenskap en gesofistikeerde beeldtegnologie.

Die duidelike beelde wat deur die Europese Ruimte-agentskap (Engels: ESA) vrygestel is, is nagenoeg 500 miljoen kilometer van die aarde af geneem.

Die tuig, wat so groot soos ‘n wasmasjien is, het ‘n kamera wat aan sy onderkant gemonteer is om nabyskote te neem en is ook toegerus met sewe hoë definisie mikro-kameras.

Die Philae het tydens sy landing twee keer teruggebons en uiteindelik aan die rand van ‘n krater te lande gekom. Die tuig is nou in die skaduwee van ‘n kraterkrans en dit sal die herlaaiing van die sonpanele bemoeilik.  Maar intussen word daar nog wonderlike data van die verskillende instrumente aan boord van die tuig ontvang.  

Wetenskaplikes het aanvanklik behoorlik naels gekou oor die tuig se landing waartydens dit twee keer teruggespring het. Hulle sal nou vinnig moet speel om die gerobotiseerde tuig te probeer skuif solank daar nog sonkrag is om dit te doen.