Koch-pop lewer hofstukke teen Hofmeyr

Hofstukke is deur die komediant-buikspreker en rubriekskrywer, Conrad Koch, ingedien as verweer waarom ’n beskermingsbevel teen hom nie finaal gemaak moet word nie. Die sanger, Steve Hofmeyr, en die skrywer-politikus, dr. Dan Roodt, word veral in die hofstukke van nagenoeg 90 bladsye aangevat.

 

Een van Koch se argumente is die interessante onderskeiding tussen Afrikaners as synde ‘n “groep” (en nie ‘n volk nie) en Suid-Afrikaners. Koch voer in verklaring aan dat nie Hofmeyr of Roodt verteenwoordigend van "die Afrikaner as groep" sou wees nie. Die verwysing na Afrikaners as “groep” word elders deur Koch herhaal: “Ek haat nie Afrikaners nie en het nog nooit enige haat teenoor Afrikaners as ’n groep getoon nie.”

 

Koch gebruik die burgerregtegroep, AfriForum se onlangse verklaring(-s) teen Hofmeyr en Roodt as synde die “prominentste voorbeeld” van wat “waarskynlik vandag die gewildste Afrikaner-voorspraak-groep in Suid-Afrika” is. Hy gebruik ook die betrokke "groep" se beskrywing van Roodt ** as ‘n "randfiguur" ter stawing van sy betoog in sy hofstukke.

 

Koch skryf in sy hofstukke dat tydens sy volkekundige studie vir sy meestersgraad het Pieter-Dirk Uys en sy satiriese ­alter ego, Evita Bezuidenhout en Zapiro se spotprente ‘n groot invloed op hom gehad om te besluit hoe hy sy (politieke) boodskap aan die publiek gaan oordra.

 

Hy voer voorts aan sy pop, Chester Missing, is nie onderhewig aan dieselfde sosiale norme en reëls as ’n mens nie en daar is daarom ’n sekere graad van ‘eerlikheid’ wanneer dit by moeilike onderwerpe kom.

 

Koch se verklaring is deel van die hofstukke wat hy by die Randburgse landdroshof ingedien het in reaksie op Hofmeyr se tussentydse bevel. Die hof hoor op 27 November argumente aan oor of die bevel finaal gemaak moet word.

 

**Dr. Roodt het onlangs in sy reaksie op ‘n AfriForum-verklaring (na aanleiding van ‘n Amerikaanse TV-program in 2010) tydens ‘n onderhoud verwys na ‘n denkwyse wat steeds vaardig is, waarvolgens die Nasionale Party  die Konserwatiewe Party as ‘n vyand hanteer het, en die ANC/Kommuniste het toe die land oorgeneem. Hyself word nou as ‘n vyand behandel, het hy voorts opgemerk in ‘n radio-onderhoud (waarin sy insetsel verkieslik volledig en in konteks beskou moet word).

Foto – Conrad Koch