Koch in kryt vir hofstryd met Hofmeyr

Die lang messe word op die hoftrappe geslyp in die Steve Hofmeyr en Conrad Koch-‘bekgeveg’.

Die komediant en buikspreker, Conrad Koch, het besluit om die Hofmeyr se tussentydse hofbevel teen hom, teen te staan. Koch, wat in sekere kringe bekend is vir sy pop, Chester Missing, het alle vrae na sy regsverteenwoordiger, Dario Milo, verwys.

Twee van Koch se meningstukke in die Sunday City Press, een deur homself en die ander deur Missing is oor die naweek met swart ink ‘gesensor’.

Hofmeyr het vroeër ‘n hofbevel in die Randburgse landdroshof gekry om Koch te verhinder om hom op Twitter te teister. Die bevel verhinder Koch om enige dreigende, teisterende of beledigende stellings teen Hofmeyr te maak. Hy word ook nie toegelaat om na die sanger op sosiale media soos Twitter, die televisie of in radio-onderhoude te verwys nie. 

Hofmeyr sou na wat berig word, gesê het totdat Koch die “haatspraak” in die Randburgse landdroshof op 27 November verduidelik het, word die buikspreker nie toegelaat om hom, sy borge of sakevennote direk of indirek te kontak nie.

Koch sou glo aangevoer het dat dit “fundamenteel” verkeerd is om regsaksie teen ‘n satirikus te neem.

In die dampkring van ‘n Afrikaanse dagblad word gesuggereer dat Hofmeyr ‘n “pop” sou probeer hof toe sleep.

Koch het twee borge van die Afrikaanse musiekfees, Afrikaans is Groot, ingesleep by sy veldtog na aanleiding van ‘n aanmerking wat Hofmeyr op Twitter gemaak het. Koch het onder meer sy rubriek in The Times getiteld, "Dear white supremacists…", gebruik om Pick n Pay en Land Rover se borgskappe te ‘bevraagteken’.