Katalane gaan op 9 November ‘stem’

Die Katalaanse streekregering gaan aldus president, Artur Mas deurdruk met ‘n sogenaamde “burgerlike deelnemende proses” op 9 November oor onafhanklikheid vir die streek.

Mas het die poging om ‘n referendum oor onafhanklikheid vir Katalonië te hou al verskeie kere met verskillende terme probeer beskryf, maar die Spaanse eerste minister, Mariano Rajoy, volhard die afgelope tyd daarmee om hierdie pogings telkens in die konstitusionele hof te kelder.

Mas is sedert die beging van die jaar onder geweldige druk van die Kataloniërs en sy partygenote om iets daadwerkliks te laat materialiseer omtrent hulle volksnasionalistiese droom oor onafhanklikheid. Die steun hiervoor het die afgelope jare geweldig gegroei en vanjaar se Diada”-viering op 11 September in Barcelona was die grootste ooit. Nagenoeg 1,8 miljoen Kataloniërs geklee in die nasionale kleure van die onafhanklikheids-vlag en bewapen met vlae en plakkate het aan die verrigtinge deelgeneem.

Wat Mas ookal die ‘stemming’ op 9 November sou noem, dit is bloot van akademiese belang aangesien dit hom steeds in ‘n direkte botsing met die Spaanse sentrale regering gaan bring. Rajou is baie gedetermineerd om nie die Kataloniërs te laat stem oor onafhanklikheid nie en gebruik die konstitusionele hof om die Katalane in hulle spore te stuit.

Intussen het meer as 200 verkose lede wat dien in die Europese, Spaanse en Katalaanse regerings asook munisipaliteite in Katalonië ‘n internasionale beswaar teen die Spaanse regering geteken. Die petisie is na die Verenigde Nasies, Europese Parlement, Europese Kommissie, die Europese Raad en die Organisasie vir Sekuriteit en Samewerking in Europa gestuur.

Die Spaanse regering word onder meer formeel in die petisie daarvan aangekla dat dit die “Katalaanse volk se reg om oor hulle eie politieke toekoms te besluit, misken.” Die internasionale organisasies word ook gevra om “te waarborg dat die Katalaanse burgers demokraties oor hulle toekoms kan besluit.”

Foto – Artur Mas