Kat en muis speletjies tussen polisie en misdadigers

In ‘n baie bisarre voorval is die vierde lid van ‘n bende aangekeer nadat hy en drie ander mans twee polisielede ontwapen en agter in hulle eie vangwa toegesluit het.

Die vier mans sal op Donderdag 6 November in die Tembisa-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord, gewapende roof, kaping en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Die polisielede was besig om by ‘n kitskosplek in Rabie Ridge, Johannesburg middagete te nuttig toe die vier mans hulle oorrompel en hulle vuurwapens afgeneem het.

Terwyl hulle toegesluit in die vangwa gesit het, het nog booswigte by die aanvallers aangesluit.  Die bende het toe sommer gou ‘n voertuig gekaap en daarmee gevlug. Inwoners het egter die polisie bevry en in die daaropvolgende jaagtog is die misdadigers aangekeer.

CCTV-fotomateriaal van die voorval het op die internet gesirkuleer. Die polisie is nog op soek na die res van die bende.

Die oud-polisiehoof, Bheki Cele, het hom vroeër uitgespreek oor die stryd teen misdaad en teenoor die media die beeldspraak gebruik dat die misdadigers die muise en die polisie die katte is. Cele, wat bekend is vir sy liefde vir mooi skoene en baie ligkleurige pakke, is deesdae die Minister van Landbou, Bosbou en Vissery.