Kaneel, heerlike spesery

Dames, wie ken nie hierdie heerlike aromatiese spesery nie? Het u geweet dit word gemaak van boombas van die Kassia boomfamilie? Die woord “kaneel” het saam met die Hollanders Kaap toe gekom. Die Engelse woord “cinnamon” kom van die Griekse woord kinnamomon.

Daar is veral die Ceylon kaneelboom wat ‘n aromamtiese geelbruin bas het en hierdie is ‘n tropiese Asiatiese boom. (Ceylon zeylanicum). Dan is daar ook die wit kaneelboom wat ‘n immergroen struik is met ‘n wit bas en leeragtige blare en dit dra klein rooi blommetjies. (wilde kaneel). Daar is ook die dovyalis hebecarpa struikie of klein stekelrige boom uit Sri Lanka en Indië waarvan die bas gebruik word vir die maak van kaneel.

Die bekendste boompie waarvan kaneel gemaak word is “Cinnamon verum” en dit kom ook uit Sri Lanka en Suid-Indië. Hierdie boompie is immergroen en word 10 tot 15 meter hoog. Wanneer die boompie 2 jaar oud is, word hulle afgesny, maar die jaar daarna groei daar weer omtrent 12 lote by die wortel van die boom uit. Die bas word van die lote afgestroop en gedroog. Net die binneste dun bas word gebruik wat ongeveer 0,5mm dik is, vir die maak van kaneel. Die lang stroke wat oorbly krul in rolle wanneer hulle begin droog word en word dan opgesny in 5 – 10 cm stokkies wat saamgebind word vir verkope.

Die beste kaneel kom van Sri Lanka, maar word in Java verbou. Kaneel van Sri Lanka is fyn, het ‘n dun gladde bas met ‘n ligte geelbruin kleur en is baie aromaties en het ‘n besondere soet, warm smaak.

Die blare is langwerpig en ovaal en is tussen 7 en 18 cm lank, met ‘n groenerige kleur en ruik blykbaar glad nie lekker nie. Volgens bronne kom die geur van kaneel van ‘n aromatiese olie wat minder as 1% van die plant uitmaak. Om hierdie olie te verkry, word die bas rofweg gehamer, in seewater geweek en daarna vinnig gedistilleer. Die olie is goudgeel met die kenmerkende kaneelgeur.

Is dit darem nie die heerlikste spesery om die eetlus aan te wakker nie? Dis so bekend en wat is ‘n melktert of melkkos sonder kaneelsuiker? Die voortrekkers het ook kaneel gebruik om verkoues te genees en ook om diarree te behandel. En as u volgende keer nie muskietweerder het nie, gebruik maar bietjie kaneel as insekweerder, dit werk.