Jeugliga simbool van verdeeldheid

Die ANC se leierlose Jeugliga is ’n simbool van die verdeeldheid wat sorgvuldig toegesmeer word sodat die buitewêreld nie bewus moet raak van die dieper liggende verdeeldheid wat besig is om elke ander struktuur van die ANC te rysmier.

Dit is die mening van ’n onafhanklike politieke ontleder van Pretoria na aanleiding van die feit dat die Jeugliga leierloos gebly het sedert Malema uitgejaag is.

Die tweede beeld wat verskyn, is dié van pres. Jacob Zuma, wat nie net in totale omstredenheid gedompel is nie, maar ook verkies het om belangrik te lyk deur met die president van Palestina samesprekings te voer, in stede daarvan om sy afspraak na te kom deur die kongres van die Jeugliga te open op die geskeduleerde tyd.

Die algemene gevoel is dat die ANC besig is om sy greep op die ondersteuners te verloor, en die kommunisties gesinde Numsa-lede het klaarblyklik reeds hulle gewig agter die vakbond ingegooi ten koste van die ANC lidmaatskap wat nou vaarwel toegeroep word.

Waarnemers is van mening dat die verdeeldheid veel dieper strek as wat tans sigbaar is, en Cosatu se hernude pogings om sy flater te wil herstel deur Numsa weer terug te wen, is ’n mislukking wat hom nog duur te staan sal kom.

Die magsug in die verskillende strukture, is ’n voorspel dat die dood in die pot is, maar dat hierdie magspel uiteindelik kan uitrol op volkere verskille wat die verskillende swart volke weer in ’n stryd gewikkel kan kry, waar veral Xhosa en Zoeloe mekaar in die hare sal vlieg, is nie uitgesonder nie.

Die magspel van Zuma teen Mbeki was die eerste teken dat die verdeldheid, en die magsug  van veel groter kragte gebruik maak as politieke “comrades” wat mekaar vervang; dit sal uiteindelik oor volke en kultuurverskille onder die swart volke wees wat die spelreëls gaan bepaal, word gesê.

In Afrika het hierdie spel hom herhaaldelik afgespeel, en die verskillende swart volke van Suid-Afrika sal dit nie gespaar bly nie.

Gert Vermeulen

 

Die skrywer is ’n pensioenaris wat op sy dag ’n skoolhoof by verskeie skole in die land diens gedoen het