Jag teen Hofmeyr oopgestel

Landdros Naren Sewnarain het in die Randburgse landdroshof die sanger, Steve Hofmeyr, se tussentydse beskermingsbevel teen die buikspreker, Conrad Koch en sy pop, Chester Missing, tersyde gestel.

Hofmeyr moet ook Koch se regskoste betaal. Koch se regspan het uit Dario Milo en Steven Budlender bestaan.

Dr. Dan Roodt van die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (Praag) het as belanghebbende namens Steve Hofmeyr aansoek gedoen dat die tussentydse beskermingsbevel teen Koch permanent gemaak moet word.

Die aanvanklike bevel was gemik teen dreigemente, teistering en beledigings. Dit het Koch ook nie toegelaat om merkers (“tagging”) op sosiale media-webblaaie te gebruik of om na Hofmeyr in televisie of radio-onderhoude te verwys nie.

Besware teen uitsprake van Koch op Twitter teen Hofmeyr is deur Budlender in die hof begroet met: “Die twiets kom van Chester. Dit moet gelees word in Chester se stem. Chester is ’n pop.”

Die hofsaak is ‘n uitvloeisel van ‘n Twitter-opmerking deur Hofmeyr oor apartheid wat gelei het tot Koch se openbare veldtog (meestal via die pop) teen die sanger en sy borge. Dr. Roodt het verwys na Hofmeyr se twiet as synde nie aanstootlik vir swartmense nie, maar dat dit wit liberaliste aanstoot gegee het.

Koch en sy pop het met groot fanfare, hoofsaaklik buite die hof en na die hofverrigtinge ‘n hele buiksprekervertoning gelewer, waarvan dr. Roodt onder meer die teiken was. Volgens sekere media was dit ‘n “struweling”.

Vanweë die wye mediabelangstelling het landdros Sewnarain joernaliste baie vroeg aan bande gelê deur te gelas dat geen lewendige uitsendings van die hofverrigtinge toegelaat word nie. “Geen video’s of rekenaars, selfone of enige ander elektroniese toestel word in die hof toegelaat nie… enige sulke kommunikasie kan buite die hof gedoen word,” het hy gesê.

Maar op die sosiale media, en in besonder Twitter (asook facebook), is die monde nie snoer nie en bly dit die platvorm waar sake eintlik uitbaklei word. Koch gaan (steeds) bandeloos voort om by monde van Missing ‘n vendetta teen Hofmeyr te voer.

Hofmeyr beoog weer op sy beurt om regsadvies in te win. Hy wil diegene wat hom boikot se name publiseer en dan sy ondersteuners vra om heel “pro-aktief” teen hulle op tree.