Infrastruktuur lê Eskom lam

Eskom is gewaarsku dat nog ‘n silo waarin steenkool by die Majuba-kragstasie gestoor word, ernstige tekens van agteruitgang toon.

Die nuus dat silo 30 ‘n sigbare twee meter lange kraak het, volg kort op die hakke van silo 20 wat onlangs heeltemal ineengestort het, het die vakbond, Solidariteit, in ‘n verklaring gesê.

Sedertien kon Eskom nie daarin slaag om die kragvoorsieningsnetwerk se volle kapasiteit te herstel nie. Suid-Afrikaners is weens die koue weer die afgelope week gemaan om krag, veral saans tussen 18:00 en 22:00 te bespaar. Volgens die jongste inligting verkeer die kragnetwerk onder ernstige druk en kan beurtkrag “weens tegniese probleme by kragstasies” selfs nodig wees.

Eskom se volgehoue ontkenning insake die ware toestand van sy silo’s waarin steenkool bewaar word, is aldus die vakbond ‘n ernstige bron van kommmer.