Ietermagô gou-gou gered

Die bedreigde ietermagô spesie het in een besondere geval ’n redder gekry toe een van die diertjies onlangs gered is en na veiligheid geneem is.

Die instansie wat hiervoor verantwoordelik was, CapeNature, moes noodgedwonge beslag lê op die diertjie, wat nie veel groter is as ’n gewone huiskat nie.

Mnr. Justin Law­rence, die woordvoerder van Cape­Nature, sê hulle het beslag gelê op die dier nadat dit in die besit van ’n persoon gevind is wat hoegenaamd nie gemagrtig is om dit aan te hou nie.

Hy vermoed dat die persoon besig was om die ietermagô onwettig te verhandel, want daar is mense wat glo die dier se skubbe het medisinale waardes.

Hy wys daarop dat dit onwettig is om hulle in die Wes-Kaap te besit, en is in elke geval ’n bedreigde spesie wat nie sonder permitte aangehou mag word nie.

Die ietermagô, ook in die volksmond bekend as miervreter, het ’n lang tong waarmee hy miere vang en vreet.

Dit is ’n besondere diertjie en daaom moes CapeNature blitsig optree om hom te beskerm, maar ook omdat die dier se maaltyd “nie maklik voorgesit kan word nie”.

Die gevaar  is ook dat hulle baie gou dehidreer, en hulle sig is nie goed nie, wat beteken dat hulle so gou as moontlik weer terug geplaas moet word in hulle habitat.