Hou die kerse byderhand

Kragonderbrekings word nie vir Dinsdag 4 November voorsien nie nadat Eskom gedeeltelik daarin geslaag het om die voorsiening van steenkool by sy Majuba-kragaanleg te herstel.

Die elektrisiteitsnetwerk sal egter weer Woensdag en Donderdag onder “kwaai druk” wees.

Vragmotors is gebruik om steenkoolvoorraad na twee van die drie “voerders” by Majuba aan te ry, en dit het beteken dat 16 voertuie per uur per “voerder” nodig was. 

Eskom ontken intussen dat hy vroeër vanjaar gewaarsku is oor struktuurprobleme by die silo wat oor die naweek by die Maruba-aanleg gekraak en toe op die vervoerbandstelsel ineengestort het. Die vakbond, Solidariteit se  bedryfshoof vir die energiebedryf, Deon Reyneke, sê Eskom se bestuur is in Junie vanjaar en drie weke voordat dit ineengestort het, gewys op die verergering van vibrasie by die silo. Eskom voer egter aan dat ‘n inspeksie in September verlede jaar geen probleme by die silo getoon het nie.

Die 13-jaar oue Majuba aanleg kan 4,110 MW krag opwek en is die tweede grootste aanleg naas Kendal, waar 4,116 MW krag gegenereer kan word.