Hoop en verwagting

Die afvaardiging wat namens ons volk ’n saak moet gaan stel in Geneve, Switserland, is sekerlik betrokke by ’n gebeurtenis wat in later jare van historiese waarde kan wees.

Dit kan egter ook ’n eerste tree wees na volkome vryheid, al weet ons dat dit ’n roete is wat ’n moeisame en stadige pas het.

Dit kan ook wees dat die internasionale magte die proses wat gevolg word, so beheer dat dit op niks uitloop nie.

Boere-Afrikaners het egter ’n onwrikbare geloof in die toekoms as vrye volk in ’n eie vaderland, en daarom sal die hoop en verwagting nimmer wyk.

Sonder om op prinse te vertrou, is dit ons plig om elke moontlike werkswyse of geleentheid te benut om nie net ons saak te stel nie, maar ook ons vryheidstrewe en alles wat daarmee saamgaan, te bevorder.

Meer as ’n eeu gelede het Boereleiers hulle gewend tot Europa, in die hoop om hulp en steun te kry vir hul saak teen die Britse Imperialiste. Alhoewel die burgery in elke land waar besoek afgelê het, hul bewondering en steun gegee het, wou geen regering ag slaan op die Boere se vertoë nie.

Vandag is dit nie veel anders nie, en regerings regoor die wêreld spreek hulle uit teen onderdrukking, maar verroer nie ’n vinger om iets daadwerkliks daaraan te doen nie.

Dit beteken nie dat die besoek aan Switserland nie onderneem moes word nie, want ons weet dat dit die een manier is om minstens ’n saak van reg en geregrigheid gestel te kry waar die ganse wêreld met sy hooghartige leierskorps, kennis sal neem van ons volhardende strewe.

Die behoudende politici van Europa, waarvan Le Pen in Frankryk maar een is, neem ook kennis van ons vryheidstrewe, en wie weet, die dag kan aanbreek waar sulke leiers die regeerders van hulle land word, wat in ons volk se guns kan tel.

Ons sal bly hoop, ons verwagting van wat moet gebeur bly vars en lewend, en die stryd om vryheid sal nimmer gestaak word nie, want dit is deel van ons geskiedenis, en dit is deel van ons toekoms.

Redakteur