Honderde werkloses betoog vir werk

Sowat 1,200 werkloses wat glo lede is van die Ses’Khona People’s Right Movement  het begin betoog in Kaapstad by die spoorwegstasie, in die hoop om werk te kry.

Die betogers sê hulle verwag van die Passasier-spooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) om genoeg mense aan te stel as skoonmakers en ander algemene werkers wat diens kan doen op stasies en by die spoorweg depots.

Etlike maande gelede het die Ses’Khona woordvoerders vergader met Prasa verteenwoordigers waartydens ’n plan opgestel is om werksgeleenthede te bied.

Die bestuur van die organisasie sê hulle wil werk beding vir hulle armste lede wat eerste van werk voorsien moet word.

Intussen is gerugte die wereld ingestuur dat die Ses’Khona ’n tarief van R25 hef teen werkloses wat lid van die organisasie wil word.

Richard Walker, die Uitvoerende Hoof van Metrorail in Wes-Kaap, sê die organisasie Ses’Khona se voorstelle en eise word oorweeg maar het geweier om enige verdere kommentaar te lewer oor die aangeleentheid.