Honderde staatsvoertuie nou in onbruik

In die Oos-Kaap staan honderde voertuie en vergaan, sommige was in ongelukke betrokke, ander is ongeskonde, terwyl ’n ander deel staan omdat daar ’n meganiese fout is wat herstel kan word.

Van die voertuie staan al so lank dat dit met mos bedek is, en ’n woordvoerder van die Departement Openbare Werke sê die voertuie word geparkeer op plekke omdat daar ’n fout is wat herstel moet word.

Foute soos ’n foutiewe brandstofmeter, of snelheidsmeter, is ’n voorbeeld van wat daartoe lei dat die voertuig in onbruik is.

Die woordvoerder vertel verder dat daar soms van die voertuie se onderdele afgehaal word deur die polisie of deur lede van die publiek, en niemand hou glo amptelik die beheer oor die “stukkende” voertuie nie.

Lede van die polisie het egter die aantygings ontken en sê die polisievoertuie staan omdat vorms verkeerd ingevul is, of omdat hulle lank moet wag vir onderdele.

Een so ’n “stukkende” voertuig is onder ’n boom gevind. Daar is geen sigbare skade aan die voertuig nie, die ritmeter toon dat die voertuig net meer as 14,000 kom afgelê het, en ’n tweede voertuig het ’n paar ligte stamp merke op die bakwerk, maar staan reeds so lank dat dit gedeeltelik met mos bedek is

Een amptenaar het erken dat die meeste van die voertuie gou en sonder groot koste herstel kan word, maar blykbaar steur niemand hulle aan die saak nie.