Honderde nuwe poste by Bloem-metro

Die ANC het sy meerderheid in die Bloemfonteinse metroraad gebruik om 485 bykomende poste goed te keur.

Die aantal nuwe poste vir twee nuwe departemente wat beoog word, is egter nie ingesluit in die verslag wat voor die raad gedien het nie. ‘n Direktoraat vir ekonomiese en landelike ontwikkeling en een vir afval- en vlootbestuur word beplan en sal vereis dat daar vir nog poste voorsiening gemaak moet word.

Van die ANC-raadslede voer aan dat die nuwe poste nodig is vir effektiewe en verbeterde dienslewering aan inwoners. 

Die besluit is met 55 stemme teenoor 19 deurgevoer, alhoewel daar glad nie melding gemaak is van nuwe poste se koste nie. Na raming kan die 485 poste die belastingbetaler R60 miljoen meer uit die sak jaag.