Hond eet hond in Cosatu

Die skeuring in die ANC se groot alliansievennoot, Cosatu, het die hele bondgenootskap in ‘n skaakmat posisie gelaat.

‘n “Verswakte Cosatu” is volgens die ANC-grootbaas, Gwede Mantashe, glad nie ‘n goeie toedrag van sake vir die alliansie nie. Hierdie reaksie volg kort nadat dit bekend geword het dat sewe vakbonde hulle deelname aan Cosatu opgeskort het omdat die vakverbond besluit het om Numsa te skors.

Benewens die verswakking in ledetal en geldelike bydraes is daar natuurlik ook die moontlikheid dat die magsewewig in die arbeidsektor in die guns van Numsa en sy ondersteuners kan swaai.

Dit beteken natuurlik weer dat ‘n magsoorname dalk op die kaarte is, hetsy in die onmiddellike toekoms of op die langer termyn. ‘n Tipe staatsgreep, oftewel ‘n kaping, is waarskynlik sommer net om die draai wanneer Cosatu sou instem om ‘n spesiale nasionale kongres te hou.

Dit is glad nie onmoontlik dat Numsa en sy ondersteuners uiteindelik tog Cosatu kan kaap nie. Die onderskeie vakbonde ken immers die tipiese taktiek wat binne eie geledere gevolg word, met “hond eet hond”.

Indien ‘n oorname nie deurgevoer kan word nie, sal die hele klomp wegbrekers ‘n “verswakte Cosatu” agterlaat.

Die Suid-Afrikaanse politieke landskap gaan boonop nog in die toekoms ‘n paar verskuiwings ondergaan weens Numsa se leier, Irvin Jim, se politieke ambisie om ‘n Verenigde Front links van die ANC daar te stel.

Nog ‘n verwikkeling wat verwag kan word, is dat Cosatu se sekretaris-generaal, Zwelinzima Vavi, waarskynlik sal bedank. Vir die vakverbond se enigsins ongewilde president, Sdumo Dlamini, lê daar net soos vir sy alliansievennote ‘n donker toekoms voor.

Foto – Sdumo Dlamini