Hoe onafhanklik is SABC-raad?

‘n Aansoek is verlede week in die Johannesburgse hooggeregshof ingedien waarin die aanstellingsproses van die SABC se uitvoerende groephoof, bedryfshoof en finansiële hoof bevraagteken word. 

Die aansoek word deur die SOS Coalition, ‘n drukgroep wat hom vir ‘n suksesvolle openbare uitsaaier beywer, die Freedom of Expression Institute (FXI) en Media Monitoring Africa (MMA) gebring. Die Minister van Kommunikasie se vermoë om die topbestuur van die SAUK aan te stel, word ook betwis. 

Hlaudi Motsoeneng, die SABC se bedryfshoof en Faith Muthambi, minister van Kommunikasie is die respondente.

Die groep vra die hof of die magte van die minister om die SABC se topbestuur aan te stel en ander name te veto geregverdig is en of die magte nie aan ‘n onafhanklike raad wat deur ‘n openbare proses aangestel is, toegeken moet word nie. 

Hulle wil weet dat ingevolge die Grondwet, hoe vry en onafhanklik is die SABC as die minister die aanstellings doen. 

Die SABC is tans in verskeie hofsake betrokke. Die Wes-Kaapse hooggeregshof het gelas dat Motsoeneng geskors en tugstappe teen hom geneem word n.a.v. ‘n ondersoek deur die Openbare Beskermer (OB). Motsoeneng het teen die beslissing geappelleer.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof moet ook nog uitspraak lewer oor die SABC-raad se voorsitter,  Ellen Tshabalala, se leuens oor kwalifikasies.