Hartseer heers oor krieketspeler

Betuigings van meegevoel stroom in nadat die jong Australiese krieketspeler, Phillip Hughes, in ‘n hospitaal in Sydney oorlede is.

Die 25-jarige linkerhand kolwer is oorlede nadat hy twee dae tevore ‘n baie ernstige kopbesering opgedoen het.  Hy is tydens ‘n wedstryd vir Suid-Australië teen Nieu-Suid-Wallis deur ‘n bal aan die agterkant van sy nek getref.

Hy het ‘n noodoperasie ondergaan en is in ‘n geïnduseerde koma geplaas, maar het nooit sy bewussyn herwin nie.

Die meegevoel wat deur die krieketgemeenskap, ander sportlui en uit ander oorde betuig word, toon dat hy as mens en talentvolle krieketspeler baie hoog aangeslaan is.